In ons eie dorpie, Groot Brakrivier, het ons die voorreg om ‘n buitengewone jong man te hê wat mense inspireer met sy vasberadenheid en deursettingsvermoë. Luca Daniël Vermeulen, tans 10 jaar oud, en ‘ń ‘n trotse leerder van Laerskool Vorentoe, is ‘n lewende bewys dat niks onmoontlik is as jy volhard nie.
Luca is gebore met ernstige klompvoete, en sy voete was heeltemal ingetrek. Kort ná sy geboorte het hy sy eerste stel gips gekry en week na week is sy voete gemanipuleer om in die regte rigting te groei. Hy het verskeie operasies ondergaan, insluitend een om sy Achilles tendons van albei voete te sny ,sening oorplasing in sy voete asook om skroewe in sy voete te plaas.
Ondanks hierdie uitdagings het Luca nooit gekla en het hy geleer om te kruip, staan en loop terwyl hy spesiale skoene met ‘n metaalstaaf moes dra om sy voete in die regte posisie te hou vir die eerste 4 jaar van sy lewe.
Met elke stap het Luca sy ouers, sy dokters en almal om hom verbaas met sy positiewe gees. Sy ma vertel trots dat sy hom van kleins af haar prins met die”voete van goud” genoem het, omdat sy geweet het dat hy eendag ‘n groot impak sou hê op mense met sy storie.
En dit is presies wat hy doen. Vandag, ondanks sy uitdagings, is Luca ‘n sportman in eie reg. Hy het begin deelneem aan Laser Run en Triathle die begin van die jaar, wat deel is van die Suid-Afrikaanse Moderne Vyfkamp. Hy het vir albei die afdelings vir SA’s gekwalifiseer in die normale afdeling. Hy is toe gekies om tydens die UIPM Wêreldkampioenskappe in die Parapleeg Afdeling vir Laser Run en Triathle deel te neem in Port Said, Egipte waar hy tweede plek behaal het in die Laser Run en vierde in die swem-, hardloop- en skietafdeling van Triathle.
Wat hierdie prestasies selfs meer merkwaardig maak, is dat Luca deelgeneem het in ‘n kategorie vir atlete met gestremdhede, soortgelyk aan syne, maar teen verskeie ouderdomme,waarvan hy die jongste was asook langer en meer uitdagende afstande as waaraan hy gewoond is.
Hy het sy silwermedalje teen ‘n 22-jarige verdien!

Buiten sy suksesse in Laser Run en Triathle, neem Luca ook deel aan rugby, krieket, sokker, en hokkie asook presteer hy uitmuntend op kultuur en akademiese vlak. Hy is ook die eerste leerder in sy graad om ń Meriete Balkie te verdien.
Luca se storie is ‘n inspirasie vir baie kinders, veral dié met gestremdhede en hy saam sy ma getuig graag, dat as iemand ooit twyfel of God werklik bestaan, hulle net na sy voete kan kyk om sonder twyfel te weet dat Hy doen….want dis sowaar ń wonderwerk🙌🏻
Hy wys dat drome bereikbaar is, ongeag die uitdagings wat die lewe bring. Hy leef elke dag die volle betekenis van sy naam “bringer van lig” uit.
Sy familie beplan ‘n groot verwelkoming wanneer hy en sy Oupa op 16 Oktober uit Egipte terugkeer, en ons hele gemeenskap is trots op sy prestasies.
Luca Daniël Vermeulen is werklik ‘n lig in ons gemeenskap – iemand wat wys dat deursettingsvermoë en hoop enige uitdaging kan oorwin. Ons sien uit om sy toekomstige suksesse te volg en glo dat hy nog baie mense met sy reis gaan inspireer.



Add Comment
You must be logged in to post a comment.